Huldeblyk: Adv R Jansen SC

Adv. Rudolph Jansen SC het diep spore in die menseregte-regspleging in Suid-Afrika getrap. Sedert hy by die Pretoria Balie in die laat tagtigs aangesluit het, het hy meestal opgetree vir die sogenaamde “underdog”. Ek was bevoorreg om as opdraggewende prokureur op te tree, met Adv. Jansen aan die stuur in dosyne aansoeke in die vroeë negentigs teen die Departement van Verdediging, namens “blanke” Suid-Afrikaners wat nie Nasionale Diensplig of verpligte “kampe” wou bywoon nie – van die ver-regse BBB tot dié wat toé gesien is as ver-links, naamlik wit lede van die ANC en ook lede van die End Conscription Campaign (sien pamflet  http://www.historicalpapers.wits.ac.za/inventories/inv_pdfo/AG1977/AG1977-B1-7-10-001-jpeg.pdf )

Dit was Adv. Jansen wat die argument aangevoer het dat ingevolge die Wysigingswet op Verdediging (Wet 103 van 1982), is alle blanke burgers in die ouderdomsgroep 18-55 aan diensplig onderhewig, terwyl die term “blank” in die Verdedigingswet gedefineer word as “soos omskryf in die Bevolkingsregistrasiewet” – ‘n wet wat toe reeds herroep is. Adv. Jansen het derhalwe geargumenteer dat omrede die term “blank” tegnies nie meer bestaan nie, ALLE Suid-Afrikaanse mans, van watter bevolkingsgroep ookal, dus dienspligtig is – ‘n gedagte wat die Weermag en die Departement bleek om die kiewe gelaat het. Met sulke en ander argumente het nie een van ons kliënte diensplig verrig of kampe bygewoon vanaf 1990 nie – insluitende myself. Ons was nie baie gewild by die Vrystellingsraad nie!

Ook was ons die span vir die verdediging vir die sg. “whistleblower”, Heckie Horn, in die moordsaak waarin Horn saam met die berugte Mathys de Villiers of beter bekend as “Kaalvoet Thysie”  van moord aangekla is in 1994 op ‘n kennis van Horn. De Villiers het aan Horn beweer dat hy Prof Johan Heyns, voormalige Moderator van die NG Kerk vermoor het. Die moord is nooit opgelos nie.

(Sien https://www.iol.co.za/news/south-africa/preachers-murder-remains-a-mystery-423057) en vanaf 7:20 op audio hier: http://aodl.org/oralnarratives/militaryops/object/34-145-D/n/ ).  Ons kliënt (asook De Villiers), is onskuldig bevind.

Adv. Jansen het hom deurgaans met menseregte besig gehou en was een van daardie advokate wat opgetree het uit die liefde van die saak nie en nie vir die fooie nie, soos sy jarelange diens as Direkteur van Regslui vir Menseregte aantoon. Sedert hy sy privaatpraktyk in 2007 heropen het, het hy meestal vir gemeenskappe wat grondeise ingedien het, opgetree en baie suksesse behaal.

Ek het hom altyd gesien as ‘n regsgeleerde wat sy loopbaan as Grondwetlike regter of Appélregter sou afsluit – of die Bram Fischer van sy tyd. Dis ‘n groot verlies vir die Regsberoep en die land dat hy so relatief jonk oorlede is.

Hy word oorleef deur sy vrou Mariana, en twee seuns, Rudolph jr van Pretoria en Gustav, tans woonagtig in Brasilië.

-Coenie Kukkuk, Coenraad Kukkuk Prokureurs, Pretoria.

Adv R Jansen