Foto’s en video van vliegramp, Suid-Afrikaners was aan boord

Die Suid-Afrikaanse ambassade in Libië het bevestig dat daar Suid-Afrikaners aan boord die vliegtuig was wat by die Tripoli-lughawe neergestort het. Volgens Eyewitness News is die presiese aantal Suid-Afrikaners wat aan boord die vlug was nog nie bekend nie. Volgens Beeld se inligting was daar minstens ses, maar dalk sewe Suid-Afrikaners aan boord. Een van hulle is mnr. Robert Eduard Weber. Beeld berig ook volgens die regsfirma Coenraad Kukkuk Prokureurs in Pretoria het Weber se weduwee hulle as die gesin se woordvoerder aangestel.

Die Nederlandse regering het vroeër bevestig dat verskeie van hulle burgers aan boord vlug 8U77 van die Afriqiyah-lugredery was.

Die vliegtuig het glo tydens die landing ontplof. Die presiese oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie. Volgens Libië se minister van vervoer, Mohammed Ali Zidan, is terrorisme nie te blameer vir die ongeluk nie.

Suid-Afrikaners wat bekommerd is oor familielede kan 012 351 1000 bel, het die departement van internasionale betrekkinge en samewerking gevra.

Source: http://www.koerant.co.za/fotos-van-vliegramp-suid-afrikaners-was-aan-boord/